Cape Home Educators

 

 

Onderhoud met Marietjie Smit

deur Corlia Erwee

``Behalwe dat ek weet my kinders is nie net pappegaaie nie en dat wat hulle leer vir altyd in hul koppe sal vassteek, is dit vir my belangrik dat ek ten volle beheer het oor hul lewenswaardes’’.

Aan die woord is Marietjie Smit van Clainwilliam, oud-onderwyser en die laaste drie jaar tuisskool-ma. Marietjie borrel van opwinding as jy haar oor haar tuisskool-pad uitvra.
``My kinders het by die huis gekom met die name van sogenaamde rolmodelle in hul boeke – mense wat wat my betref die pad heeltemal byster geraak het. Boonop kon ek meer en meer sien dat my oudste inligting soos ‘n pappegaai weergee, net om ‘n week later niks meer daarvan te onthou nie.
``Behalwe dat ek al hierdie goed kon aanspreek, het my oudste verander van ‘n geirriteerde kind wat oor naweke soms soos ‘n vreemdeling gevoel het, na ‘n liefdevolle kind wat liefde kan gee en ontvang.
Marietjie en haar man, Wimpie se probleem was dié van baie plaasboere. Hulle woon op ‘n plaas buite die dorp waar hulle met rooibostee en druiwe boer en moes een van drie opsies kies – koshuis, in en uit ry of tuisskool.
``Ek kan nie uitgepraat raak as dit by tuisskool kom nie. As mense uitvra, moet ek myself later keer. Ek praat hulle sommer om. Ek glo dat die Hemelse Vader ‘n pad gestap het met ons en ek is vir geen oomblik spyt nie. Dit wat uit Sy hand kom is goed.’’
Marietjie tuisskool al drie haar kinders – Albert (12), Annamie (10) en Nicolene (8). Die drie is onderskeidelik in graad 7, 4 en 3. Sy het die kinders 2005 huis toe gebring nadat sy vir drie jaar vir Albert elke Maandag by die koshuis moes gaan aflaai. Toe Annemie graad een toe is het sy teen koshuis besluit en in en uit begin ry, maar sy het gou besef dat sy nie ure uit haar of die kinders se lewens in ‘n kar wil slyt nie.``Annemie het met kosallergieë gesukkel en koshuis sou nie vir haar gewerk het nie. Vandag besef ek die `probleem’ was eintlik ‘n seën,want toe was tuisskool die enigste antwoord.’’
Aanvanklik het Marietjie – ‘n gekwalifiseerde hoërskoolonderwyser - ‘n kurrikulum gebruik maar deesdae stel sy haar eie leermateriaal saam – iets wat sy geweldig geniet.
Haar idee is oorspronklik en sy sê dit werk uitstekend. Sy berei haar inhoudsvakke aan die hand van die skeppingsverhaal voor. In die eerste jaar het sy by die skep van lig (dag een) begin en so week na week aanbeweeg na die planete, die diere, die berge, die planete ens. Die tweede jaar het sy dit verder afgebreek en begin kyk na bv. diere, plante en oseane in en om Suid-Afrika. Sy het handboeke aangekoop vir Wiskunde en Afrikaans en Engels, maar sê as daar enigsins ‘n kans is werk sy taal-werk ook sommer by haar tema’s in.
``Na drie jaar kan ek regtig sê dat dit baie sinvoller is om werk prakties aan te pak en dit deeglik en rustig deur te gaan as om ‘n program na te jaag. Baie van die tuisskool-kurrikulums beveel self aan dat jy hul werk net as riglyn gebruik. ‘n Program wat perfek gevolg is beteken niks as jou kind nie ‘n maand later kan onthou wat jy gedoen het nie.’’
Sy sê sy geniet tuisskool amper meer as die kinders en deesdae verkies hulle al vier dit. Hoewel haar middelkind, wat baie sosiaal is, aanvanklik gesukkel het gaan dit deesdae beter.
En hoe voel dit om in ‘n tradisionele boere-gemeenskap soos Clainwilliam `anders’ te dink wat skool betref?
``Ons het baie teenkanting verwag, maar was verbaas dat mense glad nie krities was nie. Ek glo nie ‘n opdrag wat God ons gee kan ons kinders skade doen nie.Vandag is daar 22 tuisskolers in haar omgewing en hul ondersteuningsgroep kom elke twee maande bymekaar vir een sosiale en een opvoedkundige uitstappie.
Haar kinders is sosiaal goed aangepas. Wat sport betref is hulle privaat geaffilieer vir atletiek en die kinders kry een keer ‘n week ook privaat tennisles op die dorp. Verder is daar die oop vlaktes van die plaas vir hardloop, swem en krieketspeel.
Akademies was daar ‘n paar uitdagings – soos Engels wat Albert met ‘n passie gehaat het – maar sy is stadig maar seker besig om sy kop oor `hierdie Britse taal’ te swaai. En is sy kwaai?
``My ma het eendag gesê ek sou nie daarvan gehou het as ‘n jufrou so kwaai was met my kinders soos wat ek met hulle is nie. Toe dink ek, `ja maar hulle sou nie die kanse met ‘n jufrou gevat het wat hulle met my vat nie’.’’
Maar buiten die akademiese vordering is die grootste positief vir Marietjie dat sy haar kinders beter kon leer ken, dat sy kan deel in hul grootword en dat sy as mens haar eie grense moes verskuif. ``Ons kan probleme onmiddellik aanspreek en ek kan my kinders die liefde en koestering gee waarna elke kind smag. Ek weet daar is seker nog grense wat moet afgebreek word. Ek is nou wel ‘n onderwyser, maar ek wil nie dinge doen soos in die onderwys nie.’’
* Tuisskolers in die Clainwilliam-omgewing kan die CTO (Cederberg Tuis Onderrig) skakel by 027-482 2729.