|
|
Cape
Home Educators
|
|
Kamp
by Melkbos Oppiesee ... Ronél Steyn woonagtig te Redelinghuys Weskaap skryf: Vrydag pak ek - beddegoed, warm en koue klere en kos vir vyf vir 'n naweek! Die trek is groot, dit lyk of ons nie weer gaan terugkom nie, maar ek weet die naweek sal al die moeite werd wees. Dis lekker om Vrydagaand weer aIle bekendes te sien en nuwe gesinne te ontmoet. Die kinders het amper nie tyd om te eet nie! 'n Groot lekkerte is tannie Marilize se speletjies in die saal. "Vrugtemandjie" bly 'n wenner! Halftwaalf staan ons eers kamer se kant toe. Dis opvallend hoe ontspanne en rustig almal is. Sommige kampers is reeds vroeg uit die vere, maar die wat wil mag maar, sonder om sleg te voel, 'n bietjie laatslaap. Oom Michael en 'n groepie kinders het gaan hengel. Ander is met swartsakke strand toe om rommel op te tel. Mens is verbaas om die groot hoop vullis te sien wat van 'n klein stukkie strand verwyder is. Almal eet wat hulle wil wanneer hulle wil. Linda se koffiemasjien bied heeldag heerlike koffie. Skottelgoedwas is nie eers sleg op die kamp nie, want daar's altyd goeie geselskap in die kombuis en die uitsig is fantasties! My gròòt uitsien na die kamp was om met ander ma's te gesels oor presies wat hulle doen en hoe hul dag verloop. Nou, in my sesde jaar van tuisonderrig, het dit tyd geword om 'n paar veranderings te maak. (Dankie aan almal wat my vrae beantwoord het!) Dis lekker en bemoedigend om met mense te praat wat regtig omgee, wat verstaan en wat praktiese raad kan gee. Oom Riaan het twee skottels deeg geknie vir stokbrood die middag. Die kinders het beurte gemaak met die stokke. Elke kind het dit geniet om te sien hoe die deeg eers lekker uitpof en dan mooi bruin braai. Met botter en heuning - koningskos! Sondagoggend het oom Melville op sy treffende manier 'n boodskap oor die vrugte van die Gees gebring. Hy het ook spesiaal vir Pa en Ma afsonderlik iets uit die Bybel gelees. Dis wonderlik om 'n lekker naweek op so 'n manier af te sluit. Ons het voor middagete vertrek om nog op pad by familie ook te kon aangaan. Hierdie kamp
is 'n wonderlike geleentheid vir die gesin, maar ook om informeel met ander
gesinne te verkeer. Ek wil dit beslis nie in die toekoms misloop nie! Vir meer inligting en/of inskrywingsvorms kontak Linda Koetsier Tel: (021) 883 2924 / 083 683 1858 of Koetsier@flotron.co.za
|
|
|
|
|